top of page

Ons groentetuin

die storie

Aan die einde van 2020 het ons die droom van 'n groentetuin met die gemeente begin deel.  Hierdie tuin se hoofdoel sou wees om aan te pas by ons visie. (Om 'n gestuurde gemeente te wees)  Ons plan was om die spasie, water en kundigheid tot ons beskikking effektief te benut en sodoende die groente uit ons tuin aan mense uit te deel. Spoedig het een na die ander lidmaat betrokke geraak, skadunet, "precast walls", sement, 'n watertenk, drukpomp, pype vir besproeiing, grond, saad, plantjies en alles wat nodig was om hierdie groentetuin 'n werklikheid te maak is geskenk.  Ons kon sien dat hierdie tuin veel meer vir die gemeente sou beteken as net die groente wat dit sou oplewer.  

Hierdie tuin het ook simboliese betekenis. Vir ons was dit 'n boodskap van hoop.  Sekerlik het die tyd waarin die groentetuin sy ontstaan te danke het iets hiermee te make.  Einde 2020 begin 2021 was maar mismoedige tye vir baie mense, die Kovid-19 pandemie het grootliks hiertoe bygedra. 

 

Jeremia 29 se boodskap het by ons vasgesteek:  "So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel weggevoer het:  Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle troue en kinders in die wêreld bring.  Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.  Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange." (Jer. 29:4-7) 

Ons het besef dat die boodskap van hoop daadwerklik uitgeleef moet word.  Daarom het ons by NG Randfontein-Noord besluit om hoopvol te leef, ons het ook in daardie tyd die fasiliteite van ons gemeente opgradeer, ons het gebou, geplant en besluit om nie moedeloos te raak nie en hopelik sou hierdie houding veel wyer kring as net in ons gemeente.  Ons wil die belange bevorder van die dorp, want sy belange is ook ons belange. 

 

Sedertdien het klomp water in die see geloop, met oom Jan Taljaard en oom Hein Fourie aan die stuur van hierdie projek groei ons van dag tot dag... sommer letterlik ook!  Druk gerus hier om na die foto's van die projek te kyk.

bottom of page